Liewe Heer
Hier is my hart…sien U dit? Ek het dit gebreek, fyn en flenters, ek was baie nalatig…en ek weet nie meer hoe om dit heel te maak nie. Ja, ek het dit probeer heelmaak, deur dit aanmekaar te heg na die beste van my vermoëns, maar kyk, dit val steeds uitmekaar…twee hande kan dit nie meer vashou nie, dit val heeltemal uitmekaar.
Ek het dit gedeel met familie en vriende en met ‘n gewese eggenoot, maar sjoe, alles was okay totdat die deeltjies wat hulle vasgehou het, gebreek het. Miskien wou hulle dit nie regtig vashou of bewaar nie…miskien moes ek dit maar net self gehou het…sommige deeltjies het weggeraak en sommige deeltjies is net weggegooi, en kyk, net daar ~ sien U, het ‘n deeltjie in sy plekkie gebly, bewaar..,
Niemand kyk so mooi na jou goed as jy jouself nie…en ja, ek weet, sommiges het nog deeltjies van my hart en ek weet nie so mooi of hulle daardie deeltjies mooi bewaar en of dit ooit terug gaan kry nie…dis moeilik om te sê, hoe doen mens dit terwyl jy toekyk hoe deeltjies bly verbrokkel wat ander vashou??
Ek vind deeltjies daarvan en my trane val daaroor soos druppels op ‘n droë aarde. Met nat besmeerde oë staar ek daarna en ek wonder hoe gaan ek my hart ooit weer heel kry. Weet U wat is hulle antwoord dan vir my? Nee, ek weet nie wat gebeur het nie…en dan, dan moet ek maar aangaan met my lewe…Dan, dan neem ek daardie verbrokkelde stukkie, en meer trane vloei dan en ek weet, my hart en ek sal nooit weer dieselfde wees nie.
Heer, ek het probeer om my hart stukkie-vir-stukkie met band-aid vas te plak, met ‘n bietjie bostik, en soms met duct-tape en prestic…dit wil nie vas nie, ek het selfs die glue-gun probeer en toe sellotape. Niks, maar niks wil dit meer vashou nie, nie eens superglue nie. Ek dink toe, miskien moet ek dit vassit soos Japannese hul porselein probeer vasheg het, met goud, maar toe werk dit ook nie. Sal souttrane dalk help?
Heer kyk, die krake word net groter en groter…wat moet ek doen? Ek is raadop, sê nou net die hele hart bars oop en elke stukkie spat in alle rigtings? Wat gaan ek doen? Nou, nou bring ek dit maar terug na U toe want hoe meer ek probeer om my hart te heel, hoe meer kraak dit. Ek plaas dit voor U voete en vra, help asb, want ek kry geen hartspesialis goed genoeg om hierdie hart te genees nie.
Soms voel dit erger as ‘n hartoperasie, want onder narkose voel jy niks, maar ek voel al vir jare hoe die pyn my deurboor met my hart se krake…hoe my hart soms verbrokkeld teruggegee word, dan sukkel ek om die legkaart van my hart bymekaar te las…dit wil nie meer pas nie…die stukkies is al so geskaaf en gekap en gebeitel en gegooi dat niks meer wil pas nie…en dan wonder ek of daar iemand daar buite is wat nog ‘n stukkie van my hart wil hê…my hart is al oud en soveel mense het my hart al gehanteer en verinneweer en vasgehou en laat val…wie soek ‘n tweedehandse hart?
Here, terwyl U nou die hart vashou, U wat dit gemaak het, so fyn besnaar het, vra ek om dit nuut te maak, dit heel te maak…want ek, ek is ‘n slegte hartkunstenaar…ek weet dat elke krakie daar is om my te herinner aan al die pyn, liefde en deernis wat dit moes deurmaak, die gom, prestic, tape ens. hou dit wel aanmekaar maar ek is so bang dit breek nou op ander plekke ook.
Soms wens ek, ek het nooit lief vir mense geraak nie, dan sou my hart steeds mooi en in plek gewees het, dink net hoe mooi was dit nie aan die begin nie. Maar ek weet ook dat ‘n hart wat nooit gebreek was, nooit geleef het nie. Sonder om my hart uit te deel, sou ek nooit die ervarings gehad het nie, sou ek nooit getrou het en kinders gehad het nie…en hulle, hulle het nog dele van my hart. Ek dink dat my kinders dele van my hart steeds sal hou, al is dit lank na my dood…
Hoe moet ek die lewe aanpak, want ek is heeltemal clue-less. Soms wens ek dat my hart nooit ‘n krakie gehad het nie, dat dele nooit weggegee was nie, dat ek alles mooi behou het…Maar, ek het dit weggegee, dis te laat om terug te kyk…Heer nou het U dit weer en hou dit mooi in U hande vas…ek weet by U is my hart veilig. En ek weet ook U genees krakies, een vir een. Om ander mense se harte te genees is soms makliker as om my eie te genees…want soms voel dit asof ek net aan ander se harte moet dink en myne altyd agterweë te laat…dis soms moeilik en ek weet U weet hoe ek voel…
Eendag, wanneer ek langs U voete sit, weet ek dat U dit mooi terug sal plaas waar dit hoort…genees, nuut en skoon…sonder enige krake en seer…
Dankie Heer dat U my gebed aangehoor het en my hart in U hande hou…
EkWasHier
.
Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.